Monday, 22 November 2010

Skoenlapper-konvetti herinner aan die hemelse bruilof

Ek voel vandag soos ‘n opregte bruid, nie dat ek weet hoe dit voel nie, maar kan myself as ‘n bruid voorstel.  Terwyl ek gaan rus soek vir my onrustige gemoed op ‘n naby geleë berg, met weer wat wil-wil dreig om swaar te word, en die wind wat my hare woes waai is my oë geopen om duisende wit skoenlappers soos konvetti om my te sien.  Deur die wind die berg opgedra het hulle stromend my begroet asof ek die een is wat die kerk uitstap, my bruidegom aan my sy.  Inderdaad was dit ook Hy wat my daarheen gelei het, en my as sy bruid kom herinner het waarom ek hier is.  Hy het my nie net kom herinner en troos dat die hemelse heerlikheid wat Hy bestem het ver oortref die huidige verdrukking en ongelukkigheid van hierdie wêreld nie, maar het ook die roeping en taak kom herbevestig.  Die taak nie net vir my as enkeling nie, maar juis aan ons wat sy roeping as kerk, as Christus se liggaam, moet voltooi. 

As kerk, die bruid en vrou van die Allerhoogste, word ons opgeroep om te wees: dienaars van Hom en vir ander, in geloof werksaam, in liefde vol arbeid, en in verdrukking vol hoop.  Hy kom skets ook ons karakter deur van ons te verwag om verander te word om barmhartig, lankmoedig, vol liefde, beskeie, en behulpsaam te wees (om net 'n paar te noem).  Hierdie is nie eise wat swaar op ons rus nie, veral wanneer ons dit as liefdestaal sien, maar bekoorlike woorde wat Hy van sy bruid vertel.  Dis nie iets wat ons in eie krag moet verrig soos take nie, maar ‘n identiteit wat ons in Christus gelei word om te kan word.  

God het ons reeds aan Hom verbind, die belofte is gemaak, en die bruilofsmaal is gereed.  Ons word geroep om die wit bruilofskleed aan te trek, die ou lewe en vuil klere uit te trek en deur Christus oordek te word met die kleed van heiligheid en volmaaktheid. Hoe wonderlik heerlik is die huwelik nie juis om ons te herinner daaraan dat ons God se bruid is nie.  Dat elke dag eintlik ‘n gereedmaak is vir die hemelse bruilofsfees nie.  Dat ons gereed moet staan, as wakende, strydende en werkende dissipels, in afwagting vir die hemelse Bruidegom om te kom.  En sy belofte – Hy kom gou.  Daarom, alhoewel ons sug saam met die skepping, roep ons gees, “Kom Here Jesus, ja, kom gou!”

No comments:

Post a Comment