Monday 25 October 2010

The Light of the Clinic


Die waarde van ʼn ma as lewe-gewer en ligdraers het vandag nuwe waarde gekry. In ‘n wagkamer in `n plaaslike kliniek kom die mammas van babatjies, peuters en kleuters maandae bymekaar vir hul gereelde ondersoeke. Party van die kinders is siek en huilerig, maar baie is rond, raserig, nuuskierig en gesond. Daarenteen is baie mammas stil en selfs somber weens die onbepaalde wagtyd.  Weens die armoede en werkloosheid word die mammas wel nie uit die werk gehou nie, maar tog word die potensiaal van die byeenkomste rakende gemeenskaplike ondersteuring en groei nie ontgin nie.

Oorlaai met lêers en dokumente val ek keer op keer die kliniek binne, maar altyd met ‘n glimlag en ‘n “Dumela, wena o kae?”.  Met volharding (of dalk dom astrantheid) het die groete begin vrugte afwerp.  Tog is verbale kommunikasie moeilik weens taal verskille.  Vandag was dit wel nie-verbale kommunikasie wat die aandag getrek het.

Die krioelende gesig wat my vandag by die kliniek begroet het, het gepaard gegaan met ‘n gees van buitengewone liefde en ontvanklikheid. Nuuskierig oor die troosryke liefdevolle gevoel, soos die van ‘n belofte van lewe, het ek ondersoek ingestel. Tot my verbasing ontdek ek ‘n ma wat met haar babatjie speel en straal van lewens vreugde soos haar vreugde voortvloei vanuit die kind se skater laggies.  Soos duistende skitterende klokkies verbreek dit die stil-swart-nag van onsekerheid en ellende wat hierdie vroue verstrik. O, die rykdom van ‘n gelukkige kind, maar meer onmeetbaar is die juweel van ‘n ma wat daardie kind se vreugde werk. Alhoewel die ma niks minder behoeftig en selfs armsaliger was as enige van die ander daar, en ten spyte van kwelvrae wat ek self nie kan dink draaglik is vir enige iemand, het daardie moeder gekies om uit dankbaarheid haar dogter te seën met haar selfopofferende liefdevolle teenwoordigheid om liefde en lig te bring. In dit – en onbewus – was sy vir die ander mammas ‘n inspirasie en vir party ‘n skaamte oor hul eie verwaarlosing van die taak om hul eie kinders so lief te hê.

My vraag aan jou liewe leser, is ons nie tog almal vir mekaar in ʼn mindere of meerdere mate na gelang van volwassenheid ‘n “ou vrou” soos vanuit Titus 2 nie?