Om alles van water te weet het min betekenis as dit nie gedrink word nie. Blote boeke kennis is koud en dood. Kennis van ons Koning en God, Jesus, is net so van min waarde as ons nie drink en eet van Hom nie, dis nog nie verhouding nie. Die bose geeste weet ook van Jesus. Hul is baie intens bewus van sy Koningskap en heerskappy en sidder van vrees oor die vernietigende impak wat Hy op hulle wese het. In verhouding met Hom is daar in ons ook ‘n vrees, wel een van heerlike en heilige vrees vir Hom.
Om in verhouding met Hom te kom, en dan deur Hom gebring te word om in intensiteit te vorder om vanuit hierdie diepte plek te lewe en te groei is vanself ‘n openbaring. Buiten dat dit sy genade en liefde openbaar, kom toon Hy daarin ook Homself, en meer nog, kom toon Hy sy hart aan ons. Omdat sy Gees nie net die Godheid ken en ons aan Christus bind wat ons tot die Vader bring nie, ken Hy ook ons leegheid, ons mensheid. Hy is die een wat die hart ken en toets.
My krete het saam met die Psalm digter opgegaan, dat die kenner van die harte my hart ook sal deurgrond, deursoek. Hoe kosbaar om op Hom te wag, in sy beloftes getroos. Laat jou weg aan die Here oor en vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer (Ps37:5 OAV). Hy het aan my kom toon die temperatuur en ywer van my hart. Die soeke en trane en smeek gebede was nie tevergeefs nie. Dit was ook nie uit myself nie. Net soos Hy my gebring het om dit tot die hemele op te stuur, toon Hy nou ook dat die blou warm louterende vuur van my goudklomp lewende hart van Hom af brand. Hy het die aan gesteek, en Hy hou dit aan die brand.
Om in kontak te kon met hierdie openbaring van sy hart oor wat Hy in my hart werk is grond tot verheerliking. Ek voel om te jubel en juig. Ek wil op die berg toppe gaan staan en aan almal verkondig dat Hy alles wonderbaarlik in sy eie hand vashou, bewerk en so innig liefhet. Hy ken die hart, verander dit, plant die Gees van heiliging, van afsondering in ons harte. Aan Hom behoort elke hart.
No comments:
Post a Comment